Vroue in Islam vs Vroue in die Joodse en Christelike gelowe Die mites en die werklikheid
Vroue in Islam vs Vroue in die Joodse en Christelike gelowe Die mites en die werklikheid
As Moslems glo ons in die Goddelike oorsprong van beide gelowe. Geen een kan homself ‘n Moslem noem as hy nie glo dat Moses en Jesus profete van God is nie. My doel is slegs om Islam te regverdig en ‘n huldeblyk te bring aan die finale waarheidsboodskap van God aan die mensdom – iets wat lank reeds agterweë gebly het. Ek wil ook graag uitwys dat ek slegs die leerstellings van hierdie drie gelowe bestudeer het. Met ander woorde, ek het my bepaal by die posisie van vroue in hierdie drie gelowe soos wat dit in die oorspronklike bronne [die Skriftuurlike bronne] bespreek was. Ek het gladnie gekyk na die manier waarop hierdie gelowe hedendaags beoefen word deur miljoene volgelinge wêreldwyd nie. Om hierdie bogenoemde rede gebruik ek bewyse uit die Koran, die Ahadith [gesegdes van die Profeet Muhammad], die Bybel, die Talmoed en die gesegdes van die mees invloedryke Kerkvaders wie se standpunte onmeetlik bygedra het tot die definiëring en vorming van die Christen geloof. Die rede waarom ek my bepaal het by hierdie bronne hou verband met die feit dat dit geweldig misleidend kan wees wanneer ‘n mens kyk na die gesindhede en gedrag van sommige nominale volgelinge van ‘n geloof. Daarom is dit belangrik om die oorspronklike bronne te bestudeer en nie te kyk na die beoefening van die geloof nie. Mense verwar kultuur [en kulturele praktyke] met geloof, en baie mense ken nie die inhoud van hulle eie geloofsbronne nie. Daar is ook natuurlik ‘n groep onder hulle wat gladnie omgee [of hulle beoefening van hul geloof ooreenstem met die Skrifte] nie.